“Alle lande het protokolle en prosedures wat geïmplementeer moet word wanneer ’n geval vermoed word, en dit is belangrik dat dit noukeurig gevolg word.”

“Sporadiese Ebola-gevalle in Europa is onafwendbaar. Dit is weens mense wat reis tussen Europa en aangetaste lande,” sê Zsuzsanna Jakab, die WGO se streekshoof vir Europa.

“Maar die risiko vir verspreiding in Europa kan gekeer word en uiters laag,” het sy in ’n verklaring gesê en bygevoeg dat Europese lande “van die bes voorbereide lande ter wêreld is”.

Ses mense is in ’n hospitaal in Madrid in afsondering, onder wie ’n verpleegster wat Maandag ’n Ebola-diagnose ontvang het. Dit is die eerste geval van oordrag buite Afrika.

Die verpleegster (in haar 40’s) het twee bejaarde sendelinge versorg wat later dood is nadat hulle van Wes-Afrika teruggekeer het.

“Daar is ’n kans op toevallige besmetting vir mense wat aan Ebola-pasiënte blootgestel word. Hierdie risiko kan en moet met streng infeksiebeheermaatreëls verminder word,” het Zsuzsanna gesê.

“Gesondheidswerkers is aan die voorfront van die stryd teen Ebola en hulle het die grootste risiko vir besmetting. Hulle moet sover moontlik ondersteun word,” het sy bygevoeg.

Onder die ses mense wat in Madrid gehospitaliseer is, is die verpleegster se man, wat deur die Spaanse owerheid as ’n “hoërisikogeval” beskou word, en nog twee verpleegsters.

Beamptes sê as ’n voorsorgmaatreël monitor hulle nog 53 mense – almal gesondheidswerkers – wat in aanraking met die betrokke verpleegster was.

“Alle lande het protokolle en prosedures wat geïmplementeer moet word wanneer ’n geval vermoed word, en dit is belangrik dat dit noukeurig gevolg word,” het Zsuzsanna gesê.

Ebola het sedert begin vanjaar 3 439 lewens geëis, volgens die jongste WGO-syfers; meer as een uit 20 van hulle is gesondheidswerkers.

- Sapa