Ná nege jaar van opspraakwekkende hoofopskrifte, bespiegelings en verskeie dwaalspore het ’n nuwe leidraad eindelik van vooraf lewe in die ondersoek na die verdwyning van klein Madeleine McCann geblaas.

Die Portugese polisie en Britse speurders neem tans die moontlikheid dat Europese mense-smokkelaars die dogtertjie gegryp het, onder loep.

Klein ‘Maddie’ het ’n week voor haar vierde verjaardag spoorloos verdwyn toe sy in 2007 saam met haar Britse ouers, Kate en Gerry McCann, in Portugal se Algarve-streek met vakansie was.

Haar ontvoering het mense wêreldwyd aangegryp: Op die aand van haar verdwyning het haar ouers en vriende by ’n restaurant – sowat 50 m van hul vakansiewoonstel af – gaan eet en hoewel Kate deur die loop van die aand gaan inloer het by haar blouoogdogtertjie en die jonger tweeling, was Maddie dié aand om 22:00 skoonveld.

Sedertdien het Brittanje se voorste speureenheid, Scotland Yard, en haar ouers onverpoos vir antwoorde gesoek oor hoe Maddie uit die vakansie-villas aan die kus van Portugal verdwyn en wat sedertdien van haar geword het.

En nou glo owerhede en ondersoekers ’n nuwe leidraad – dat lede van ’n mensehandel-bende die dag voor Maddie uit haar slaapkamer gegryp is, foto’s van die driejarige op die strand geneem het - hul laaste hoop is om antwoorde te kry.

In Oktober 2015 is die lede van Operasie Grange – wat Maddie se verdwyning sedert 2007 ondersoek - drasties van 29 na vier lede verminder, maar nóú het owerhede hulself daartoe verbind om die nodige fondse vir wat waarskynlik die laaste bruikbare leidraad in haar verdwyning sal wees, beskikbaar te stel.

Bronne: mirror.co.uk; dailymail.co.uk; thesun.co.uk