Dinsdag is ’n opname bekendgemaak waarin die akteur blykbaar erken dat hy drie meisies gemolesteer het.

stephcollins

Dinsdag het TMZ ’n opname bekendgemaak waarin die 67-jarige akteur blykbaar erken dat hy drie meisies tussen die ouderdom van 10 en 13 gemolesteer het. Dit is blykbaar in die geheim opgeneem toe Stephen met sy vervreemde vrou, die aktrise Faye Grant, in ’n terapiesessie was.

TMZ berig nou dat Faye in 2011 per e-pos met een van Stephen se slagoffers in aanraking gekom het. ’n Jaar later het sy, ná ’n huwelik van 27 jaar, ’n egskeiding aangevra.

“Stephen het gejok toe ek hom 12 jaar gelede konfronteer. Hy het gesê daar was ’n gat in sy jeans, soos dit toe die mode was, en jy ‘moes seker’ sy geslagsdele gesien het,” het Faye glo in die e-pos geskryf.

“Stephen is nie nie berouvol nie, toon geen skuld nie en sy skaamte word gedemonstreer as uiterste selfbejammering. Hy huil oor in hoeveel pyn hy is.”

Blykbaar het die slagoffer in 2000 ’n anonieme brief aan Faye gestuur wat sê dat Stephen ’n kindermolesteerder is. Die uittreksel uit die e-pos verwys blykbaar na ’n gesprek wat Faye met haar man gehad het toe sy 14 jaar gelede die brief ontvang het.

Die New York City-polisiekantoor het aan FOX411 bevestig dat ’n ondersoek na die bewerings begin is.

“Daar is ’n formele klagte op rekord en die Special Victims Squad in Manhattan ondersoek die saak,” het ’n wetstoepasser aan TMZ gesê.

Blykbaar gee die ongeïdentifiseerde vrou met wie Faye gekommunikeer het, haar volle samewerking. Volgens TMZ het sy aan beamptes gesê dat sy soms gebly het by Stephen en sy eerste vrou, Marjorie Weinman, met wie hy van 1970 tot 1978 getroud was, in hul woonstel in New York.

Volgens bronne het die vermeende slagoffer tydens ’n onderhoud met polisie onthul dat Stephen soms in haar kamer gekom het met net ’n handdoek om sy lyf. Sy het hom dan “ontbloot en haar hand verskeie keer op sy geslagsdeel gesit” en hy het ook “aan haar gevat en aan haar gevryf”.

In die band wat Dinsdag bekendgemaak is, het Stephen gesê hy het minstens een keer ’n slagoffer se hand op sy geslagsdeel gesit.

Nadat die nuus bekendgemaak is, is Stephen se verskyning in die fliek Ted 2 verwyder en van die SAG-AFTRA-raad bedank, het Variety berig.

Hy het in 1996 bekendheid verwerf vir sy rol in die TV-reeks 7th Heaven. Hy het die toegewyde gesinsman Eric Camden gespeel; die reeks het in 2007 geëindig.

Hy en Faye het ’n 25-jarige dogter, Kate.

© Cover Media