’n Voertuig wat Dinsdagaand in ’n gewaagde rooftog by die OR Tambo-lughawe gebruik is, is in Pretoria opgespoor.

’n Hooggeplaaste bron het aan News24 gesê die voertuig is Dinsdagaand gevind met verskeie leë bokse waarin die geld was.

Die bron het gesê senior beamptes van die Valke ondersoek ’n polisieverband in die rooftog deur ’n opspoorstelsel te gebruik.

Die bron het ook gesê die onvermelde bedrag geld, wat glo sowat R24 miljoen beloop en vir Engeland bestem was, is Dinsdag uit ’n vliegtuig by die lughawe gesteel.

Dis in hierdie stadium onbekend in watter geldeenheid die kontant was, maar dit was vermoedelik ’n mengsel van rand, euro en Amerikaanse dollar.

’n Gemerkte polisiemotor is glo gebruik om toegang tot die lughawe se parkeerarea te kry. Die bokse met kontant is uit die vliegtuig gesteel.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, wou nie kommentaar op die inligting lewer nie.

Hy’t gesê lt. genl. Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, het ’n taakspan aangestel om die saak te ondersoek. “Ongelukkig is dit op die oomblik al inligting wat ons kan bekendmaak.”

Bron: News24