Luidens nuwe berigte was die pille nagemaak wat ná Prince se dood in sy herehuis, Paisley Park, in die Amerikaanse Minnesota gevind is.

Die nagemaakte medisyne het fentaniel bevat. Dit is ’n sintetiese opioïed wat 50 keer sterker as heroïen is.

’n Plaaslike beampte wat Sondag, 21 Augustus, met The Associated Press gepraat het op voorwaarde van anonimiteit omdat Prince se dood nog ondersoek word, het gesê baie pille was vals as Watson 385 gemerk.

Dié stempel word gebruik om pille te identifiseer wat ’n mengsel van asetaminofeen en hidrokodoon bevat.

Die medikasie is in ’n aantrekkamer in Paisley Park, Prince se ateljeekompleks en huis net buite Minneapolis, gekry. Ondersoekers het ook reistasse en bagasie met Vitamien C-pille en aspirien in gekry toe hulle Paisley Park deursoek het.

Die uitslae van ’n nadoodse ondersoek in Junie het bevestig Prince is weens ’n onopsetlike oordosis fentaniel dood.

Mediese verslae wys die 57-jarige het ten tye van sy dood geen voorskrif vir enige beheerde middel in Minnesota gehad nie.

Die owerhede ondersoek nog hoe Prince die medisyne in die hande gekry het wat hy volgens bronne op 15 April – ’n week voor sy dood – by hom gehad het toe die vliegtuig waarop hy was in Moline, Illinois, ’n noodlanding moes maak terwyl hy van ’n optrede in Atlanta, Georgia, op pad huis toe was. Dit was ná Prince siek geword het; vermoedelik weens ’n oordosis medisyne.

Intussen word die ster se boedel nog uitgepluis, want Prince is sonder ’n testament oorlede. ’n Regter het ses dae ná sy dood in April vir belanghebbendes by Bremer Trust beheer oor sy boedel gegee.

Prince se intellektuele eiendom is na raming tussen R1,4 biljoen en R4,1 biljoen werd.

© Cover Media