Gemaskerde rowers het die vreesbevange ster met wapens aangehou by die No Name Hotel en is weg met waardevolle items van meer as R135 miljoen ($10 miljoen).

Franse owerhede het verlede week 17 mense in verband met die misdaad in hegtenis geneem en aanklagte teen 10 verdagtes Donderdag en Vrydag aanhangig gemaak.

Kim het nog nie kommentaar gelewer op die jongste verwikkelinge in die maandelange ondersoek nie, maar redakteurs van die Franse koerant Le Journal du Dimanche het Sondag die verklaring wat sy ten tyde van die voorval aan die polisie gegee het, gepubliseer.

Haar verklaring is ’n eerstehandse vertelling van die traumatiese rooftog, waartydens sy beveel is om haar diamantverloofring van R54 miljoen ($4 miljoen) – ’n geskenk van haar man, Kanye West – te oorhandig.

“Ek het ’n geluid by die deur gehoor, soos voetstappe, en geskree en gevra wie is daar, maar niemand het geantwoord nie,” het sy vertel.

“Ek het my lyfwag om 02:56 gebel. En toe sien ek agter die skuifdeure daar is twee mense saam met die man by die ontvangstoonbaank, en hy was vasgebind. Albei mans was geklee in ’n kappietop, een het ’n klapmus en ’n pet en baadjie met die woord ‘police’ daarop gedra. Die tweede man het dieselfde ‘polisieklere’ maar nie ’n klapmus gedra nie. Die een met die klapmus het (tydens die rooftog) by my gebly.”

Kim (36) vertel verder hoe sy met “plastiekkabels” vasgemaak is en hoe daar kleefband om haar hande, mond en bene gedraai is voor sy na die badkamer geneem en in die bad geplaas is.

Sy’t ook vertel die mans het “effe onervare” gelyk want sy kon die kleefband van haar hande en mond verwyder enkele oomblikke nadat die bende “weggehardloop” het.

Kim het vir die polisie gesê sy het nie seergekry nie, en het gesê sy wil net so gou as moontlik terugkeer na haar familie in Amerika.

Volgens ’n uitgelekte verslag het die ander gesteelde items ingesluit diamant-oorbelle, armbande en ’n hangertjie met haar seun, Saint, se naam daarop.

– Cover Media