’n Nuwe datum is vasgestel vir die verhoor van ’n Suid-Afrikaanse vrou wat daarvan aangekla word dat sy haar drie jong, gestremde kinders in Brittanje vermoor het, het die Britse Persvereniging Vrydag berig.

Die saak, wat om prosedurele redes uitgestel is, word op 13 Oktober hervat.

Die vrou sal Vrydag by die Old Bailey vir ’n vooraf verhoor verskyn.

Sy het in die beskuldigdebank gehuil toe sy skuldig pleit op manslag met verminderde verantwoordelikheid ná die dood van die vierjarige Olivia en die driejarige tweeling, Ben en Max.

Maar sy het ontken sy het die kinders tussen 20 en 23 April vermoor.

Die verhoor, wat na verwagting drie tot vier weke gaan duur, sal op 21 Februarie volgende jaar begin.

Die aangeklaagde is in ’n veilige psigiatriese hospitaal opgeneem.

Die polisie is op 22 April na die gesin se vyfslaapkamerhuis in die gegoede Londense buurt New Malden ontbied. Hulle het die kinders daar aangetref; hulle is op die toneel dood verklaar.

Al drie die kinders het aan tipe 2 spinale spieratrofie gely.

Dit staan ook bekend as slapbaba-sindroom en is ’n genetiese toestand wat veroorsaak dat die lyer min beheer oor sy bewegings het. Dit verkort hul lewensverwagting aansienlik.

Tania is in die St. George-hospitaal in Tooting, Suid-Londen, vir snywonde behandel, en op 24 April aangekla.