“Die Netcare Pregnangy App gaan verwagtende vroue en hul maat toerus met maklik bekombare en betroubare inligting en wenke oor swangerskapverwante sake. Dit bied ook ’n aantal nuttige eienskappe,” sê Tumi Nkosi, die Netcare-groep se bemarkingsbestuurder.

“Die app bied ’n paneel vir maklike toegang tot aspekte soos die grootte en gestasie-ouderdom van jou ongebore baba, sowel as ’n spesiale aftelkalender wat verseker dat toekomstige ouers presies weet wanneer die pienkvoet sy opwagting maak. Die app bevat ook inligting en wenke oor ’n aantal onderwerpe, soos voeding, fiksheid, seksuele gesondheid, vel-, hare- en naelsorg, noodgevalle tydens die swangerskap en voorbereiding vir kraam,” verduidelik Thabo Matime, Netcare se algemene bestuurder: verkope en nuweprodukontwikkeling.

Thabo voeg by dat ’n week-vir-week-gids insig gee oor die fisiologiese en emosionele veranderinge wat swangerskap in die vrou meebring, en gee ook uitvoerige inligting oor die baba se ontwikkeling, van bevrugting tot geboorte. Dit maak ouers ook attent op dit waaroor hulle ’n ogie moet hou. Daar is ook ’n funksie wat ouers in staat stel om die Netcare-ginekoloog, -verloskundige en -hospitaal die naaste aan hulle op te spoor. Hulle kan die betrokke instansie ook slegs met die druk van ’n knoppie bel.

“Die app is eenvoudig om te gebruik en bevat betroubare inligting wat enige tyd en plek beskikbaar is,” sê Tumi.