SY HARE staan in alle rigtings. Die leesbril rus net-net op die punt van sy neus. Hy lyk half manies. Heeltemal kunstenaar. Totaal in sy eie wêreld.

Frank Opperman sit kruisbeen op die trap voor die Metodistekerk in Melville in Johannesburg. Hy’s vandag hier om sy nuwe eenmanstuk, Rooi Kaart, in die kerksaal in te oefen. Hy trek rustig aan ’n sigaret. Sy hele houding spel dit uit: kreatief, kreatief. En terwyl hy skep, kan alles rondom hom vergaan. Selfs sy kleredrag.

Die swart broek hang los aan sy skraal lyf. Die wit-en-bruin geruite insteekskoene lyk soos ’n paar lekker uitgetrapte sloffies. Sy lewensmaat, Esmarie Meyer, se nuwe T-hemp rond die voorkoms af.

Hy spring op en stap met ’n uitgestrekte hand nader om ons te groet, en skielik onthou jy daardie eerste befaamde karakter: Ouboet van die TV-reeks Orkney Snork Nie.

Kan dit al 25 jaar gelede wees? Want kyk, die mense onthóú vir Ouboet en Poeksie, vertel Frank met ’n kopskud. Hy gaan sit, spring dan weer op om te demonstreer, en voor jou oë verskyn Ouboet met sy bekende breker-waggelstappie, skouers vooroor gegooi.

“Ag toe, sê dit?” hoor Frank nog dikwels agter hom in ’n winkel of op straat.

“Sê  wát?” dink hy gewoonlik eers, en dan kliek hy:  Hulle wil Ouboet en Poeksie se bekende rympie uit die destydse sitkom hoor. En dan gee hy dit maar vir hulle.

Frank is nou weer besig om met die komedie Die Uwe Pottie Potgieter Vrydagaande op SABC2 in kykers se harte in te kruip.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 16 September 2010