Koningin Elizabeth II het haar amptelike verjaardag Saterdag gevier met 'n spoggerige militêre parade en toekennings vir akteurs, sportmanne en –vroue, sakeleiers en gemeenskapswerkers.

Die koningin het in werklikheid op 21 April verjaar – sy was toe 89. Maar, volgens tradisie, word haar verjaardag ook gevier op 'n Saterdag in die somer wanneer die weer moontlik beter sal wees vir die parade, wat bekend staan as Trooping the Colour.

Haar eggenoot, Prins Philip, en ander lede van die koninklike familie het die seremonie, wat vanjaar deur die Welsh Guards in sentraal-Londen gelei is, saam met die koningin bygewoon.

Ná die parade het die koningin haar by die ander lede van die koninklike familie op die balkon van die Buckingham-paleis aangesluit vir ’n verbyvlug van die Royal Air Force.

Op daardie tydstip het Prins George, ’n maand voor sy tweede verjaardag, die kollig gesteel toe hy sy eerste verskyning op die balkon gemaak het in die arms van sy pa, Prins William.

Sy ma, Catherine, die Hertogin van Cambridge, het vroeër, toe sy in 'n koets gery het saam met Prins Harry en Camilla, die Hertogin van Cornwall, vir die eerste keer in die openbaar verskyn sedert die geboorte van Prinses Charlotte op 2 Mei.

Ander nuwe foto's van die jong prinsie waar hy gister saam met Kate speel, het ook die lig gesien.