Die internet het behoorlik gegons toe onlangse foto's wys hoe die sangers Selena Gomez (24) en The Weeknd (26) mekaar vurig soen, maar nuwe foto's wys dié twee is dalk meer as net 'n kitsromanse.

Hulle is gekiek waar hulle saam na Italië reis en het Vrydag saam Florence verken. Hulle het ook 'n museum besoek waar hulle kunswerke besigtig het en saam middagete geniet. Selena en The Weeknd, wie se regte naam Abel Tesfaye is, het alte liefies gelyk. Sy eksmeisie, die model Bella Hadid, is glo effe dikbek oor dié nuwe romanse, maar dié wat weet sê sy en Selena is nie juis vriende nie.
"Selena is nie goeie vriende met Gigi (Bella se ousus) of Bella nie. Sy ken hulle deur ander mense, maar hulle is net kenisse. Selena hoef beslis nie enige reëls na te kom wat kuiers saam met of 'n verhouding met Bella se eks betref nie," het een bron gesê.
Justin Bieber, Selena se eks met wie sy jare lank 'n aan-af verhouding gehad het, het ook nog nie 'n woord oor dié nuwe glanspaartjie gerep nie, maar toe hy onlangs gevra is of hy The Weeknd se musiek luister, het hy glo net reageer met "Hel, nee!" Selena het ook 'n video van The Weeknd op haar sosiale media blaaie gelaai.

Bronne: Daily Mail, E! Online, The Independent.