Toe sy ’n mengsel van skoonmaakmiddels en bleikmiddels in ’n emmertjie bymekaargooi, was dit met net een gedagte in haar kop: Dit sal dalk makliker wees as ek wit is . . .

Miskien sou die brousel haar vel genoeg bleik sodat sy uiteindelik die aanvaarding kon kry waarna sy smag . . . Toe smeer die 11-jarige Sandra Laing die mengsel aan haar gesig, arms en bene, en dit het gebrand met ’n byna ondraaglike pyn. ’n Ander soort pyn as wat sy ervaar het om as bruin kind tussen wittes te leef.

Sannie Laing het haar enigste dogter later in die bed aangetref met brandwonde waar die bleikmiddel in haar bruin vel ingevreet het. Hulle het Sandra se opgehewe vel versigtig gelawe, maar sy het natuurlik bruin gebly – al het haar geboortesertifikaat gesê sy is wit.

Sandra, nou 54, slaan haar oë neer wanneer sy oor die pynlike herinnering praat. “Dit was baie seer,” sê sy sag, “net soos die keer toe my ma iets op my hare gesit het om dit reguit te maak. Dit het ook erg gebrand.”

Dis maar twee van die vele hartverskeurende ervarings wat Sandra nou herleef nadat ’n fliek van haar lewensverhaal gemaak is: hoe sy as bruin kind van wit ouers gebore is, en haar stryd om in die 60’s onder die apartheidsvergrootglas ’n plek tussen wit en bruin te vind.

Die rolprent, Skin, begin op 22 Januarie hier met die Suid-Afrikaner Ella Ramangwane as die jong Sandra en die Londense aktrise Sophie Okonedo wat die ouer Sandra speel. “Alles in die fliek is waar,” sê Sandra in haar sagte stem. “My pa, Abraham, was net so kwaai en hardkoppig soos Sam Neill hom speel. Maar hy was baie lief vir my. En my ma was net so sag soos Alice Krige haar laat lyk.”

Sy het die fliek nou al ’n paar keer gesien, en sy was elke keer opnuut diep geraak toe sy haar traumatiese grootwordjare herleef het.

Lees meer oor Sandra en die rolprent in Huisgenoot van 21 Januarie.

Op die internet - www.skinthemovie.net

Wat dink jy van hierdie verhaal? Het jy 'n soortgelyke storie wat jy wil deel? Gee gerus jou mening in die kommentaarveld hieronder.