Onthou julle nog hoe ons dit uitgekap het op Believe en The Shoop Shoop Song? Wel, Cher-aanhangers kan binnekort regskuif vir nog, want haar nuwe album word in September uitgereik. Dis haar eerste album in 10 jaar!

As ’n voorsmakie van wat ons te wagte kan wees, gaan Cher (67) Woman’s World, die eerste enkelsnit van die langverwagte album, sing op die laaste episode van The Voice. Boonop gaan dit die eerste keer in 10 jaar wees dat sy ’n regstreekse optrede op TV doen.

Dis nie al nie.

Op 18 Junie gaan Woman’s World digitaal uitgereik word, dieselfde dag dat aanhangers op iTunes, Amazon of Cher.com bestellings kan plaas vir die nuwe album.

Kitsfeite oor Cher

  • Die veelsydige ster het al onder meer ’n Oscar, Emmy en Grammy en talle Golden Globes gewen.
  • Meer as 20 miljoen eksemplare van haar album Believe en altesaam 11 miljoen eksemplare van die enkelsnit Believe is verkoop.
  • Cher is die enigste kunstenaar wat in elk van die afgelope ses dekades ’n treffer bo-aan die Billboard-trefferlyste gehad het.

Deur Faiza Mallick