Die prins van Wallis was so vertwyfeld oor sy voorgenome huwelik dat hy die dag voor hy die kerkpaadjie moes afstap, byna die troue afgelas het.

Hierdie onthulling word gemaak in ’n boek deur Catherine Mayer, wie se nie-amptelike biografie Charles: Heart of a King onlangs gepubliseer is. In die boek word beweer Charles het aan iemand in sy binnekring gesê hy was “desperaat”. Die toekomstige prinses, aan wie hy reeds vyf maande verloof was ná ’n kortstondige hofmakery, was “nie die vrolike, plattelandse meisie wat hy gedink het nie”, maar ’n kwesbare, ingewikkelde vrou wat reeds aan ’n eetsteuring gely het.

'Ek kan nie hiermee aangaan nie.'

The Daily Telegraph het onthul die prins het glo aan sy vertroueling gesê: “Ek kan nie hiermee aangaan nie; ek kan net nie.”

Lady Diana het aan Andrew Morton, haar biograaf, vertel sy het haar susters in haar vertroue geneem, en vir hulle gesê het: “Ek kan nie met hom trou nie; ek kan dit nie doen nie. Dit is absoluut ondenkbaar.”

Hulle het vir haar gesê dit was te laat om kop uit te trek want “jou afbeelding is (reeds) op die afdroogdoeke”. Maar, sê Mayer, “sy het nie geweet dat dit ook baie mooipraat gekos het om haar bruidegom voor die kansel te kry nie.”