Justin Bieber gaan nog ’n fliek uitreik ná die ongelooflike sukses van Never Say Never, sy 3D-konsertfliek van 2011.

Die popsuperster (19) het op Donderdag 20 Junie op sy Twitter-blad geskryf: “Res van die wêreldtoer, rolprent en #NEWMUSIC kom alles vanjaar! Hou nooit op werk nie. #focused”

Sy eerste rolprent vertel die verhaal van sy verstommende opgang tot wêreldroem van 2009 tot 2011 en het wêreldwyd al sowat R1 biljoen by die loket laat inrol.

Justin bly beslis besig, want hy het ook ’n rits nuwe datums vir sy Believe-toer bekendgemaak.

Die sanger sal in Australië, Nieu-Seeland, Asië, Mexiko, Japan en Suid-Amerika optree.

Hy het ook geskimp hy werk aan nuwe liedjies wanneer hy van tyd tot tyd van sy wêreldtoer ’n blaaskans neem. Justin het getwiet: “Speel die nuwe musiek. #musicjournals”

Die nuwe werkprojekte is seker vir Justin ’n welkome afleiding, want hy was die afgelope ruk om al die verkeerde redes in die nuus.

Dié week het hy ’n regsbrief ontvang oor ’n geheuekaart wat by ’n fotograaf afgevat is. Gustavo Garces het op 5 Junie foto’s van die pophartebreker geneem toe Justin hom raaksien en sy veiligheidspan opdrag gee om die fotograaf se kamera af te vat.

Al het hulle die toerusting terugbesorg, het Justin en sy veiligheidspan Gustavo se geheuekaart gehou. Gustavo het toe ’n eis ingedien om dit terug te kry en die foto’s daarop behoue te laat bly.