HY kom met twee meganiese kunsbene en ’n stel krukke al klik-klakkend by die trap afgestap, sy skoolmaats by Laerskool Die President in Germiston beskermend al om hom.

As ’n mens nie van beter geweet het nie, sou jy dalk jammer gevoel het vir die 10-jarige seun met die asblonde kuif wat op sy voorkop wip. Maar vir Brandon Menezes is die titaan-bene wat skerp punte onder sy grys skoolbroek maak daar waar die knieë buig, die beste ding wat nog ooit met hom gebeur het. Want nou is hy vir die eerste keer in sy lewe net so lank soos sy maats – en hy kan uiteindelik nes hulle loop.

Brandon ly aan die dwergsiekte diastrofiese displasie en hy is met horrelvoete gebore. Vyf operasies om sy bene reguit te maak het almal misluk – elke keer was hulle binne ’n jaar maar weer net so skeef, en hy kon nie eens regop staan nie. Hy moes met krukke op sy knieë loop of ’n rolstoel gebruik.

Uiteindelik het hy sy ma, Charlene Potgieter, oortuig hy sal beter daaraan toe wees as sy bene net bo die knieë geamputeer word. (Baai-baai, bene, hallo, lewe! Huisgenoot, 11 November 2010) Dit was nie ’n maklike besluit nie, vertel ma Charlene Potgieter. Dit het so drasties geklink. En dan was daar die koste – R200 000 per jaar net om die kunsbene te onderhou, en oor vyf jaar sou hy nuwes moes kry.

Die gesin het toe ’n trustfonds begin en met onder meer ’n gholfdag genoeg geld ingesamel vir sy eerste stel bene.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 3 Februarie 2011

The Brandon Menezes Trust

Standard Bank

Tak: Eastgate

Takkode: 8505

Rekeningnommer: 281904863

Bespreek vir Skouspel!