ballade 2

Gedurende die 1980’s het Leon van Nierop se treffer-TV-reeks kykers vasgenael gehou in verwondering oor die misterieuse Jacques Reynhard en sy aan-af-nooi, Lena Aucamp.

Leon het nou sy verhaal herskryf vir ’n moderne gehoor.

Buiten die intriges word die TV-verwerking van Ballade vir ’n Enkeling veral ook onthou vir die treffer Voshaarnooi, geskryf deur Louis van Rensburg, en die titelsnit, Ballade vir ’n Enkeling, geskryf deur Richard van der Westhuizen.

Buiten die modernisering van die storie, is albei hierdie treffers heropgeneem vir die fliek se klankbaan.

Joshua na die Reën het Vrydag sy nuwe verwerking van Voshaarnooi op sosiale media bekendgestel. Die publiek was uiters ingenome. Iemand het byvoorbeeld geskryf: “Ek het gewonder of jy ooit Louis se skoene sou kon volstaan, maar jy kry dit beslis reg!” Die amptelike musiekvideo kom binnekort.

Daarteenoor gaan Die Heuwels Fantasties die titelsnit ’n nuwe gedaante gee. “Ballade vir ’n Enkeling is ’n classic! Dis ’n liedjie wat almal ken,” sê Hunter Kennedy, die hoofsanger. Tog erken hy hy is senuweeagtig oor hoe Richard, wat die lied ook oorspronklik gesing het, gaan reageer.

Die nuwe weergawe van die Ballade vir ’n Enkeling se temalied word later vandeesmaand verwag. Intussen moet al die nuuskieriges maar rustig wag om al die intriges en geheimsinnigheid van hierdie boeiende verhaal opnuut te beleef.

Luister hier na Joshua na die Reën se verwerking: