Vir die eerste keer in agt jaar kan Astérix-aanhangers weer ’n nuwe avontuur van dié strokiesprentheld en sy beste vriend, Obelix, lees. Astérix and the Picts word op Donderdag 24 Oktober uitgereik en in dié boek, die 35ste in die reeks, reis die Galliese helde na Skotland.

Die Astérix-reeks is in 1959 deur die kunstenaar Albert Uderzo en skrywer René Goscinny geskep. Daar is sedertdien al 352 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop, en vertalings na meer as 110 tale en dialekte is al gedoen. Ná René se dood in 1977 het Albert alleen voortgegaan. Die nuutste boek is egter deur ’n nuwe span – Jean-Yves Ferri en Didier Conrad – geskep.

Deur die jare het die twee karakters van antieke Gallië al vir Cleopatra ontmoet, saam met die Engelse tee gedrink, deelgeneem aan die Olimpiese Spele, ontelbare geroosterde wildevarke geëet en vele Romeine opgedons.

Op die voorblad van hul nuutste avontuur sien ’n mens hoe Obelix deelneem aan ’n tradisionele Skotse aktiwiteit waar ’n groot paal gegooi moet word. Dit bied natuurlik geen uitdaging aan Obelix en sy bonatuurlike krag nie.

Alhoewel Albert in 2011 aangekondig het dat hy ophou teken, het hy onlangs gesê hy het steeds toesig gehou oor die nuwe boek. Die 86-jarige kunstenaar het selfs die Obelix geteken wat op die voorblad van Astérix and the Pictsgebruik is. – Sapa