Die nuwe sepie se naam is Suidooster en is boonop die eerste sepie wat in Kaapstad afspeel.

Die name van die akteurs vir dié opwindende nuwe sepie moet nog bevestig word, maar baie van die akteurs sal glo Kapenaars self wees.

“Binnelanders en Villa Rosa, ons twee mees gewilde kykNET-sepies, speel onderskeidelik in Pretoria en Bloemfontein af. Dit is nou tyd dat ons ook in die Wes-Kaap ’n sepie kry,” het Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale gesê.

“Al is die Wes-Kaap Suidooster se tuiste, is die storielyne universeel en ons sien uit daarna om dit met Afrikaanse kykers regoor Suid-Afrika te deel.”

Suidooster word vir kykNET vervaardig deur Gambit Films, ’n nuwe produksiemaatskappy met vervaardigers en personeel wat reeds diep spore in die TV-bedryf getrap het.

Gambit Films het onder meer groot opslae by die kykNET Silwerskermfees gemaak met hul kortfliek Nommer 37.

Hulle het ook ’n rol gespeel in die vervaardiging van die 20 Ons Stories-flieks, wat in 2014 op kykNET & Kie uitgesaai is.

Suidooster sal Maandae, Dinsdae en Woensdae vanaf 16 November om 20:00 op kykNET & Kie (DStv kanaal 145) kyk. kykNET & Kie is beskikbaar op die DStv Familie-pakket.