Babalas is nie net ’n gevoel wat jy kry die dag na jy te veel gedrink het nie. Dis nie net ’n hoofpyn, naarheid en ’n droë mond nie… Dis ook ’n splinternuwe komedie wat die storie vertel van twee karakters uit die 1980’s Castrol televisie-advertensies. Die oorspronklike akteurs Ian Roberts (Boet) en Norman Anstey (Swaer) speel in die fliek.

Die fliek handel oor die manne van die Kalahari Oasis wat deur die beeldskone Mia, gespeel deur Tammy Anne Fortuin, oorreed word om aan ’n groot optrede by Emperor’s Palace deel te neem. Hulle reis begin natuurlik by die Oasis Bush Pub. En hulle ry eers ’n hele paar draaie voor hulle uiteindelik by hul bestemming kom.

’n Nuwe gesig op die silwerdoek is die kletsrym-koning, Jack Parow. Hy vertolk die rol van Neef. Maar hy beplan nie om ’n voltydse akteur te word nie. “Ek dink ek gaan bly by die rap game, maar dit was groot pret gewees,” het hy by die première van die fliek by Emperor’s Palace vertel.

In een toneel, speel Parow teenoor ’n bobbejaan, Andries. “Dit was crazy om so naby aan iets te sit wat jou enige oomblik uitmekaar uit kan skeur,” sê Parow. Sy DVD Welcome to Parowdise word oor drie weke uitgereik en hy werk ook tans aan ’n dubbel album. “Dis lekker om terug in die ateljee te wees.”

Hoewel Parow ’n geharde man is, kry hy ook af en toe ’n babalas, vertel hy. En sy kuur? “Dis die moeilikste ding ooit om te kuur. Die beste is nog drank,” meen hy.

Mede-akteur Ian Roberts het egter ander raad. “Ek het in die ou dae in Port Elizabeth geleer, rou eiers in ’n glas met Tabasco en worcestersous doen die ding. Jy klap hom so en dan oor ’n uur kom jy reg.”

Tydens verfilming van die fliek het Roberts ook aan die M-Net reeks, The Wild, verfilm. “Dit was nogal uitdagend. Dit was middel van winter, dan skiet ons die hele nag tot die oggend die fliek, dan klim ek in my kar en ry Heidelberg toe ek gaan skiet ’n ander karakter daar.”

“So dit was vir my vreemd om twee karakters in een dag te probeer speel. Soos meeste movies is dit ’n warrelwind. Jy is opgevang in hom, jy word rondgeslinger en dan pop jy uit. Dis hoe dit gevoel het,” sê hy.

Wanneer hy terug dink aan die Castrol-advertensie van ouds en die fliek, is daar een ding wat vir Ian uitstaan. “Ek het ’n skok gekry toe ek sien hoe oud en vrot ek lyk in die movie!”

Hy vat tans ’n blaaskans, want hy het die afgelope tyd hom afgesloof. Voor Kersfees sal hy in vier flieks te sien wees. Die eerste is sy eie fliek, Every Man’s Taxi, daarna is dit in die fliek Musiek vir die Agtergrond, Die Windpomp en Stuur Groete aan Mannetjies Roux.

Ander akteurs in die fliek is Hannes Muller. Hy speel vier karakters, naamlik die Koeglenberg Broers. Ook Wynand van Vollenstee (Theodore), Neels van Jaarsveld (as sy Klipdrift karakter) en Michael de Pinna (as sy Vodacom karakter) is in die fliek te sien.

- Loren Pienaar