“Yes-parenting” is die nuutste ouerskapsgier, maar kenners waarsku ouers wat kinders deurentyd hul sin gee, kan eindelik met bedorwe brokkies sit.

Bea Marshall, ’n ma van twee van Engeland, sê egter hierdie ouerskapstyl is die antwoord en volstaan dat haar twee seuns, Peep (9) en Joss (7), onafhanklik grootword omdat hulle hul eie keuses maak oor wat hulle eet, dra, doen en sê.

Is jy ’n ja-ma?

Bea laat haar seuns byvoorbeeld toe om te vloek, heelnag TV te kyk, roomys vir ontbyt te eet en met ’n sker deur elektriese koorde te knip.

Al is alle gevalle nie so ekstreem soos Bea s’n nie, is jy ’n ja-ma as jy:

  • eerder ja sê om die vrede te bewaar, want jy vrees jou kind se humeur;
  • jou kind toelaat om besluite te neem oor kwessies wat volwasse insig verg; en
  • selfs ja sê in gevalle waar jou kind se veiligheid in gedrang is, soos om op gevaarlike plekke te speel of met elektriese koorde te peuter.

Hoe kan ek minder toegeeflik wees?

Jenny Perkel, ’n sielkundige van Kaapstad, sê dat kinders as babas hanteer word asof hulle die middelpunt van die heelal is.

“In hierdie stadium is dit natuurlik en normaal om aan ’n baba se elke behoefte te voorsien.” Namate kinders ouer word, is dit die ouer se plig om die kind geleidelik te laat wegdoen van die idee dat hy die belangrikste is.

Sy gee die volgende wenke:

  • Wanneer jou kind ’n baba is, is dit vanpas om in te willig tot dit wat jou kind wil hê. ’n Baba se behoeftes word “primêre narsisme” genoem en is gesond.
  • Sodra jou kind ’n kleuter word, moet jy afskaal en hulle slegs hul sin gee wanneer dit noodsaaklik is. Dit beteken om minder in te willig tot begeertes en meer tot behoeftes, soos kos, klere en veiligheid.

Is daar meriete in soms ja sê sodat jou kind ’n les kan leer?

Jenny sê ouers kan, namate kinders ouer raak, soms inwillig tot kinders se versoeke sodat hulle kan leer om ’n ouer se oordeel te vertrou. Jy kan byvoorbeeld ’n tiener wat neul dat hulle die aand voor ’n sportwedstryd laat wil wakkerbly, dit toelaat. Hulle sal self die volgende dag tydens die wedstryd agterkom hulle is moeg.

Leer jou kind om jou oordeel te vertrou:

  • Wys hulle gevalle waar slegs ’n volwassene se oordeel die gevaar kan oplet, soos by ’n besige pad waar kinders te klein is om al die aankomende verkeer raak te sien. Verduidelik dat hulle na volwassenes moet luister omdat hulle soms gevare kan raaksien wat kinders nie kan nie.
  • As hulle iets wil eet wat hulle nie mag nie, sê vir hulle dat jy as volwassene hulle verseker dit is onveilig of ’n slegte idee. Die wete dat dit ’n gesagsfiguur is, behoort hulle te laat insien dat hulle jou moet gehoorsaam.

Wat is die slaggate van “yes-parenting”?

  • Kinders wat onveilig en onverantwoordelik is omdat hulle nooit geleer is wat gevaarlik is nie.
  • Kinders wat nie goed aanpas in hul portuurgroep nie omdat hulle daaraan gewoond is om hul sin te kry en nie kan toegee nie.
  • Ongedissiplineerde kinders.
  • Kinders met arrogante houdings wat glo hul opinie en behoeftes is die belangrikste.

-Mieke Vlok

Bronne: Mail Online, jennyperkel.com