Ons vind die top-nuusstories en bring dit kortliks vir jou, sodat jy altyd op hoogte kan bly van interessante nuusgebeure:

Oprah se blitsbesoek aan Bloem:

Kletskoningin-koors het die Rosestad behoorlik beet, met Oprah Winfrey wat Bloemfontein oormôre besoek, maar nie eens die Vrystaatse premier sal haar persoonlik kan ontmoet nie. Volksblad het berig dat Winfrey minder as vier uur in Bloemfontein sal wees wanneer sy ’n eredoktorsgraad in onderwys van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontvang.

Paris nou alleenloper:

Die sosiale vlinder Paris Hilton en haar kêrel, Cy Waits, se verhouding is iets van die verlede. Die rede is glo omdat Waits nie die 30-jarige Hilton se lewenstyl as ‘n bekende kan hanteer nie. Dié twee was vir meer as ‘n jaar en ‘n half saam.

Bond op dreef in Kaapstad:

Die voorproduksie van die nuwe James Bond-rolprent, met die voorlopige werktitel James Bond 23, is flink aan die gang. Dit volg op maande se gesloer nadat die maatskappy MGM bank­rot verklaar is, het Die Burger berig. Geld van ander maatskappye is in­tussen bekom om dié gewilde franchise aan die gang te hou. Die Britse regisseur Sam Mendes en die vervaardiger Barbara Broccoli was in April in Suid-Afrika om plekke vir die verfilming te soek.

Charlene beeldskoon in Vogue

Die Suid-Afrikaanse swemmer en binnekort prinses van Monaco, Charlene Wittstock, het pas verskyn in die nuutste uitgawe van die gewilde modetydskrif, Vogue. In die tydskrif gesels Charlene oor haar toekomstige man en die uitdagings wat haar in die gesig staar wanneer sy amptelik ‘n prinses word. (Sien foto links-bo)

Volg Huisgenoot op Twitter.