Pietermaritzburg – Daar is nog geen nuus oor ’n Suid-Afrikaanse paartjie van Pietermaritzburg nie wat in Nepal was toe ’n aardbewing die land Saterdag tref, berig Netwerk24.  

Die twee advokate, Shane Matthews (59) en Elsje Bezuidenhout (46), was van die dorp Namche Bazaar in die noordoostelike deel van Nepal na Lukla onderweg toe die dodelike aarbewing gebeur.

Elsje se broer, Eben Strydom, sê die familie het 23 April laas van hulle gehoor.

Hul name verskyn nie op ’n lys van vermiste Suid-Afrikaners in Nepal nie.

Die familie het hulle deur talle kanale probeer kontak en onder meer aan die sjerpa saam met wie hulle was en beamptes op die lughawe in Lukla e-posse gestuur, maar baie van die boodskappe het as onafgelewer teruggekom.

Nog ’n groep Suid-Afrikaners, wat by die berg Everest vasgekeer was, is Maandag na veiligheid gebring.

Meer as 4 300 mense is in die aardbewing dood, volgens AFP.

Bron: Netwerk24