Met meer as 1 biljoen gebruikers wêreldwyd, moet WhatsApp voortdurend op die hoogte van sake wees om relevant te bly. Sedert Facebook die app vir ’n rekordbedrag van R256 biljoen gekoop het, is dit egter nie ’n probleem nie.

Maar die jongste kenmerk wat WhatsApp luidens gerugte gaan bykry, sal dit meer soos Messenger en WeChat laat lyk. Dis nou wanneer ons van geld praat.

Luidens berigte sal die app mobiele betalings op sy stelsel bekendstel, wat dit vir gebruikers moontlik maak om met WhatsApp vir mekaar geld te stuur.

Skermgrepe van die jongste bywerking, wat aanlyn uitgelek is, toon koordlose geldoorplasing word nou vir die app getoets. 

Volgens Express UK sê die verwelkomingskerm vir WhatsApp Payments – wat uit die jongste beta-weergawe verkry is – die diens maak “bank-tot-bank-oorplasing met UPI” moontlik. Dit dui ook aan gebruikers sal WhatsApp Payments se privaatheidsbeleid en voorwaardes moet aanvaar voor hulle enige geld stuur. 

Dit sal dit waarskynlik vir die boodskapreus se biljoen gebruikers baie eenvoudig maak om geld oor te plaas deur ’n app wat hulle elke dag gebruik.

Sal jy met WhatsApp vir geliefdes geld stuur? 

Bronne: Express UK, Outlook India, Economic Times