Dit kon net sowel hul heel eerste musiekvideo gewees het. Maar die vuurwarm video wat die nuwe boyband NRG onlangs op YouTube gelaai het, is sommer net ‘n rondspelery, vertel die groep se een kitaarspeler, Rowan Zerf.

Volgens hom het die groep se ander kitaarspeler Christiaan Botha sommer die video een middag op sy iPhone opgeneem terwyl hulle gereperteer het.

Hulle het die video in twee dele op die internet gelaai. In die een wys hulle biejie meer van Rowan se huis waar hulle elke dag oefen. Sy troetel rotslang, Sam, verskyn ook daarin. Op die ander sing hulle hul liedjie Hoe doen jy wat jy doen?

Rowan deel die huis in Waterkloofrif, Pretoria, met sy verloofde, Alicia Esquino, maar die NRG-lede hang glo elke dag daar uit, selfs al oefen hulle nie. “Ag, ons het ‘n lekker plekkie met ‘n potspeltafel en genoeg plek om almal se instrumente uit te pak,” vertel Rowan waarom sy huis die NRG-basis is.

Hulle eet ook omtrent elke dag saam middagete daar en volgens hom is dit ‘n baie gesonde geleentheid. Al die manne kyk mooi wat hulle eet. “Ons eet omtrent elke dag hoender. Maar die ander ouens eet soms brood al sê ek vir hulle dit is baie ongesond,” verklap Rown.