“ATHENS se ma . . .’’ So het ’n karakter in ’n lag-met-’n -traan-spotprent van Zapiro destyds Suid-Afrikaners se teleurstelling saamgevat toe die Olimpiese Spele van 2004 eerder aan Griekeland toegeken is.

Selfs ’n belofte van Madiba dat Suid-Afrika ’n waardige Spele sou aanbied, was toe nie genoeg om die vermeende vrese vir ’n Afrika-flop te besweer nie. Maar midde-in Afrika se eerste Wêreldbeker-sokkertoernooi het Suid-Afrika die bordjies verhang. En hoe!

Ons kan nou met reg spog dat ons die Groot Drie van spansport – die Wêreldbekertoernooie van rugby, krieket en sokker – onberispelik lofwaardig aangebied het. En noudat SA2010 einde se kant toe staan, is daar ’n nuwe gonswoord in die lug: Durban, Kaapstad of Johannesburg 2020 . . .

Meen te sê, die Olimpiese Spele bly darem maar dié gesogte sportskouspel, en met Suid-Amerika wat oor ses jaar ook sy eerste Olimpiese kans kry, is Afrika die enigste oorblywende vasteland waar die Spele nog nie gehou is nie.

Besluitnemers het nou gesien dat Afrika enige toernooi kan aanbied, het pres. Jacob Zuma kort voor ’n verwagte besoek van die grootbaas van die Internasionale Olimpiese Komitee opgemerk. En die voorsitter van die IOK, Jacques Rogge, het laat blyk hy wil graag ’n sterk Afrika-kandidaat vir die 2020-Spele hê.

“ ’n Moontlike bod deur ’n land soos Suid-Afrika is altyd goeie nuus,” het hy gesê.

Met die WB-fees byna op ’n einde klink dit soos iets om na uit te sien. Maar is ’n Spele hier nou ’n haalbare ideaal . . . en in ons belang?

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!