Marc Rodgers, bevelvoerder van die plaaslike Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het in ’n verklaring gesê die roeier, Ben Swart (55), was ná 07:00 saam met twee vriende in die water toe hy ’n “harde stamp” van onder sy roeiski voel.

Die drie is gereelde roeiers wat op Plett vakansie hou. Hulle het van Central Beach tot by Keurboom geroei en was sowat 400 m vanaf die kus.

Weens die stamp het Ben deur die lug getrek en in die water beland.

’n Grootwithaai van sowat 4 m het van onder die roeiski gekom en ’n “groot hap” daaruit gevat,” het Marc gesê.

Waarnemings langs die kus

“Ben het daarin geslaag om terug te swem na sy beskadigde roeiski, wat darem nog kon dryf. Hy het daarop gaan lê en sy twee vriende het langs hom geroei. Hulle is terug land se kant toe en het die NSRI op Plettenbergbaai gebel.”

Een van Ben se vriende het die haai sowat 30 sekondes ná die voorval in die water daar naby gesien, maar dis nie daarna weer gewaar nie.

Die NSRI het die mans in die branders gevind en hulle in ’n reddingsboot na die strand geneem.

“Foto’s van die roeiski, afmetings en ’n opsomming van wat gebeur het sal na die owerhede gestuur word om die grootte en spesie van die haai te bepaal,” sê Marc.

Kuswagters wat die see monitor, het gewaarsku ná die voorval is haaie langs die Plettenbergbaaise kus gewaar.

Bron: News24