Klein Jayden Swanepoel het saam met sy ouers, Sonja en Pieter, by die Letaba River Lodge Eco Park naby Tzaneen in Limpopo gekuier toe die dramatiese toneel hom Dinsdagmiddag afgespeel het.

Jayden het ’n welpie gevryf en toe weggeloop toe die leeu hom van agter aan die regterkant van sy keel gryp, het Sonja aan Netwerk24 vertel. “Die leeu het Jayden al byna ’n meter ver gesleep.”

Mense kan by die leeupark met leeus speel onder die toesig van hanteerders.

Jayden se oom, Joost Swanepoel, ’n paramedikus, het hom gered deur op die leeu te spring.

Jayden is daarna na ’n nabygeleë hospitaal geneem maar is Woensdagoggend ontslaan.

Marius van Deventer, die bestuurder van Letaba River Lodge Eco Park, het gesê hy mag geen kommentaar lewer nie, omdat die storie eksklusief aan ander publikasies belowe is.

Jayden se familie kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.