Die sanger (66) het vandeesweek sy oorblywende somerkonserte gekanselleer en gesê hy het met folterende pyn opgetree en kon “enige tyd” gesterf het.

“Ek was ’n tikkende tydbom. Ek dink ek kon enige tyd gesterf het.  Ek voel so gelukkig en dankbaar om te leef. Ek het nege konserte en die White Tie and Tiara Summer Ball in pyn gehou.”

Elton het eers gedink hy het voedselvergiftiging, maar toetse het getoon hy het ’n lewensgevaarlike blindederm-abses.

Hy drink nou medisyne om sy ontsteekte blindederm te verklein en antibiotika om die kans te verminder dat hy bloedvergiftiging opdoen.

Hy sterk by sy huis in Windsor in die suid-ooste van Engeland aan en sal ’n operasie ondergaan wanneer die swelsel gesak het.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Die ergste is verby, maar Elton is steeds baie siek. Dit was ’n verskriklike beproewing. Hy haat dit om nie konserte te kan hou waarvoor hy bespreek is nie. Maar sy beproewing in ag genome sal sy aanhangers hom nie kwalik neem nie.”

Elton het ’n tweejarige seun, Zachary, en ’n sewe maande oue seun, Elijah, saam met sy man, David Furnish. Hy het afgelope jaar 170 konserte gehou en hoop om in September slaggereed te wees vir sy optredes by die iTunes Festival and Bestival.