Die ma van ’n 7de Laan-aktrise kon Woensdag nie haar huis verlaat in die woonkompleks The Meadows in Moreletapark, Pretoria, waar ’n gyselaardrama afgespeel het nie.

Carina Nel (28), wat die rol van Alexa Welman in die sepie vertolk, se ma bly in dié sekuriteitskompleks waar vier mense gister in ’n nege uur lange gyselaardrama gesterf het.

carina nel

“My ma-hulle is daar vasgevang,” het Carina Woensdagaand gedurende die drama oor WhatsApp gesê. “Hulle mag nie uit die huis uit gaan nie. Die ergste is ons ken al die sekuriteitswagte baie goed.” Die vermeende skieter, Danie Small, is omstreeks 22:00 dood in sy huis gevind. Hy het glo drie ander inwoners doodgeskiet. Die drama het glo begin ná Danie sy buurvrou met ’n klip gegooi het. Die vrou het toe die polisie ontbied. The Meadows se veiligheidsbestuurder, Edward Gobey, is vermoedelik saam met ’n sekuriteitswag soontoe om met Danie te gaan praat. Volgens die inwoners het Danie met ’n jaggeweer van sy patio se dak vir Edward en die sekuriteitswag geskiet. Nog ’n persoon, wie se identiteit nog nie bekend is nie, is ook doodgeskiet.

“My ma mag glad nie uit haar huis gegaan het nie,” vertel Carina.

Huisgenoot het toevallig die dag voor die drama by Carina en haar ma gaan kuier. Die kompleks was vreedsaam met kinders wat op oop erwe gespeel het terwyl talle inwoners met honde rondgestap het. “Dit is baie erg. Ek mag ook nie na haar toe gegaan het nie. Niemand mag die kompleks binnegegaan nie,” het sy gesê. Carina het nog nie op navrae gereageer oor hoe dit vandag met haar ma gaan nie. Carina en haar verloofde, Deon Nagel (28), trou volgende Vrydag.