Dié 24-jarige Behati, wat aan Maroon Five se Adam Levine verloof is, het gehelp om 16 kledingstukke, onder meer denimbroeke, spanbroeke, kortbroeke en T-hemde, te ontwerp. Die idee is glo dat haar aanhangers ’n “stukkie van Behati kan saamneem huis toe”, het THVM se kreatiewe direkteur in ’n verklaring gesê.

Dit is die eerste keer dat dié handelsnaam met ’n bekende saamwerk en is ook die eerste keer dat die Namibiese skoonheid ’n klerereeks help ontwerp. Behati glo die versameling wys iets van haar persoonlikheid, berig die Daily Mail. “Ek voel die kledingstukke weerspieël my persoonlike styl: moeiteloos, aanpasbaar, eenvoudig en boonop gemaklik.”

Die versameling gaan vir die 2014-lenteseisoen by Coterie, ’n mode-tentoonstelling wat twee keer per jaar in New York plaasvind, bekendgestel word.

Behati sê die projek het haar ’n kans gegee om aan haar “kreatiewe energie” uiting te gee. Aanhangers sal egter moet wag en sien of haar eie klerereeks gaan volg.