Al ooit ’n Facebook-inskrywing gesien wat jou laat wens daar was ’n “hou nie van”-knoppie pleks van die gewone “hou van”-opsie?

Wel, jy’s nie al nie. Facebook het jou klagtes gehoor – die “hou nie van”-opsie is een van die mees versoekte byvoegings – en oor net ’n paar weke sal al 1,6 biljoen gebruikers op dié gewilde sosialemedianetwerk emoji’s (digitale beelde wat emosies uitbeeld) saam met die bekende “houvan”-knoppie kan gebruik sodat gebruikers op meer genuanseerde wyses op Facebook-inskrywings kan reageer.

Die vyf verskillende emoji’s – wat Reactions genoem word – sal langs die “hou van”-knoppie verskyn en sluit in “Love”, “Haha”, “Wow”, “Sad” en “Angry” en elkeen sal ’n ooreenstemmende prentjie hê. (’n “Yay”-knoppie met ’n glimlaggende gesiggie met rosige wange is getoets, maar Facebook sê dis verwyder tydens toetsing omdat gebruikers dit nie mooi verstaan het nie.)

Lees ook: Mark Zuckerberg se klerekas: 50 skakerings van grys

Ontwikkelaars wat die spesifieke emoji’s gekies het nadat hulle by ’n span sosioloë aangeklop het, hoop dat Reactions die “hou van”-knoppie sal verbeter saam met die emoji-reaksies, wat gebruikers in staat sal stel om meer emosies oor te dra.

Die span agter Reactions, onder leiding van die hoofproduktebeampte Chris Cox, het Facebook se gewildste gebruikersreaksies saamgestel en dit in kategorieë verdeel.

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, wou nie hê emoji’s moes die tuisblad oorvol laat lyk nie en het met ’n oplossing vorendag gekom: Vertoon die gewone “hou van”-knoppie onder elke inskrywing, maar as iemand op hul slimfoon ’n rukkie langer daarop druk, verskyn die ander opsies.

Chris se span het voortgegaan daarmee en animasie bygevoeg om die bedoeling daaragter duidelik te maak – die geel emoji’s sal bons en van gesigsuitdrukking verander. Wanneer mense dan op hul reaksies klik, sal die inskrywings in die nuusvoer die aantal “wows”, “hahas” en “loves” aandui wat elkeen gekry het.

Lees ook: Lesers deel foto’s op Facebook van hul troeteldiere met hul gunsteling-speelgoed

Facebook het Reactions in uitgesoekte lande getoets sedert Mark in Oktober verlede iets oor die projek laat val het. Dis eers in Spanje en Ierland in Oktober getoets, gevolg deur Chili, die Filippyne, Portugal en Colombië. En binnekort sal gebruikers in Amerika dit vir die eerste keer kan gebruik (en hopelik ook in Suid-Afrika).

Mark het gesê die bekendstelling van ’n reeks opsies pleks van net die teenoorgestelde van die “hou van”-knoppie verleen “’n bietjie diepte” aan gebruikers se reaksies. “As jy net ’n ‘hou van’-knoppie het en iemand deel hartseer inligting of iets wat jou kwaad maak, het mense nie die moontlikheid om daarop te reageer nie.”

Hoewel daar steeds nie ’n “hou nie van”-knoppie beskikbaar is nie – Facebook is bekommerd dat dit op negatiewe maniere gebruik kan word – sal die gewone “hou van”-funksie bly, tesame met die nuwe emoji-opsies. Facebook se 1,6 biljoen gebruikers keer meer as 6 biljoen keer per dag die “hou van”-knoppie – dis gereelder as wat mense soektogte op die soekenjin Google doen – en dit beïnvloed jaarliks biljoene dollars in advertensies.

BRONNE: bloomberg.com; independent.co.uk; fastcompany.com; huffingtonpost.com

Saamgestel deur Latashia Naidoo