Bok van Blerk het die hele ding begin met De la Rey. En voor jy “generaal” kon sê, was daar ’n tou Afrikaanse sangers agter hom – hand op die bors kliphard aan die sing aan hul eie patriotiese nommer.

Maar eie aan sy aard het Steve Hofmeyr toe die hele verskynsel van die “generaal-liedjie” na ’n nuwe vlak geneem: Toe hy dreig omdie gewraakte k-woord in sy nuwe liedjie, Ons Sal Dit Oorleef, te gebruik, het hy ’n splinternuwe bestanddeel by die wenresep van patriotiese liedjies gegooi. By talle het dit ’n baie slegte nasmaak gelaat, terwyl ander daardeur aangevuur is.

Eers het Steve die liriek op sy Facebook-blad gepubliseer – maar met sterretjies tussen die k en die r.

Die byna 23 000 mense wat binne vier dae op YouTube na die liedjie gaan luister het, het ’n biep oor die woord gehoor. Dit sal weggevat word, het Steve gedreig, as die hof die ANC-jeugleier, Julius Malema, onskuldig bevind aan die haatspraakklag teen hom sodat hy dan wel die strydliedjie Skiet die Boer mag sing.

Maar toe die hof in ’n ander saak oor dieselfde lied beslis die woorde “skiet die Boer” hits moord aan en is ongrondwetlik, het dit Steve vir die oomblik laat afsien van sy plan. Hy gaan nou die woord “kryger” sing. Maar het veel verander? Soos Steve steeds sing: Sy hart breek vir sy volk voor die kryger se dolk. Die kryger wat, soos almal nou weet, nou die dag nog die k****r was. En daarmee het een van Suid-Afrika se gewildste sangers nou vir homself ’n nuwe titel gewen: die Julius Malema van die wit mense.

Lees meer in die Huisgenoot van 26 Mei. 

Volg Huisgenoot op Twitter.