Die sanger Bobby van Jaarsveld worstel al jare met ’n vreemde dilemma. Hy is op sy gemak wanneer hy op die verhoog voor ’n reuse skare mense optree, maar hy versteen sodra iemand ’n televisiekamera op hom rig. Hy word yskoud, sy hart klop ál vinniger en hy vergeet sommer wat hy wou sê.

Hy is sowaar banger vir die kamera as vir die derduisende pare oë wat hom dikwels tot vier keer per week stip vanuit die gehoor dophou. Dis hoekom die aantreklike blondekop met die grasgroen oë en skitterwit glimlag verlede jaar besluit het om ’n plan te maak om die vreesaanjaende lens op sy plek te sit sodat hy voortaan makliker televisieonderhoude sal kan doen . . .

Hy het ’n klomp skoenbokse op verskillende plekke in sy huis in Centurion, Pretoria, geplaas en hom verbeel dis eintlik televisiekameras. “Ek het op en af in die huis gestap en geoefen om voor die ‘kameras’ gemaklik te voel. Ek het my verbeel ek word afgeneem en probeer ontspan. Dit het nie eintlik gewerk nie,” erken hy effens verleë.

Dis tog maar goed Bobby (22) het geoefen, want hy moet die ware Jakob deesdae kort-kort in die oë kyk. Die sanger het pas begin met die verfilming van Liefling, ’n splinternuwe Afrikaanse fliek waarin hy die hoofrol vertolk, en hy sal tot einde Maart kort-kort voor die kameras verskyn. Dis sy heel eerste rol as akteur, en hy was skoon sprakeloos toe hy hoor die rol is net vir hom bedoel.

“Toe die vervaardigers my verlede Mei bel en vra of ek in Liefling sal speel, het ek gelag en gesê ek is nie ’n akteur nie. Maar dit blyk toe die akteur Erik Holm, wat die draaiboek geskryf het, het die rol spesiaal vir my geskryf!”

Lees die res van die onderhoud met Bobby in Huisgenoot van 21 Januarie.