Kim Kardashian en Kanye West wil die eerste foto van hul baba vir miljoene aan ’n tydskrif verkoop en die geld vir liefdadigheid skenk.

Die twee het hul dogter, North West, op 15 Junie in die wêreld verwelkom toe sy vyf weke vroeg gebore is. Hulle wil glo nou ’n intieme kiekie van die pasgebore baba deur ’n multimiljoendollar-tydskrifooreenkoms deel, maar sal al die wins aan ’n liefdadigheidsorganisasie vir kinders skenk.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê Kim (32) het nog nie ’n aanbod aanvaar nie, maar sal ’n gesinsfotosessie deel met die hoogste bieër.

Die paartjie het voorheen ’n aanbod van R30 miljoen vir die eerste van hul foto’s van hul baba van die hand gewys toe Kim nog swanger was.

Kim het ook vervaardigers ingelig sy sal nie toelaat dat North tydens die volgende seisoen op haar werklikheidsreeks Keeping Up with the Kardashians verskyn nie.

Kanye het onlangs verklaar sy kind se privaatheid is sy grootste prioriteit en Kim en Kanye (36) het geweier om met hul baba te verskyn op Kim se ma se nuwe geselsprogram, wat volgende maand in Amerika begin.

Kort voor die baba se geboorte het hy hoeka gesê: “Een van die goed was net om beskermend te wees, dat ek enigiets sou doen om my kind en my kind se ma te beskerm . . . Ek wil net nie met Amerika oor my kind praat nie. Dis my baba. Dis nie Amerika se baba nie.”