Die perd het klaarblyklik geskrik toe die 13-jarige Mondré Barnard van ’n kraalheining afgeval het terwyl die dier versorg is.

Mondré was ’n gesoute ruiter. Sy ouma Adrie Hatting het aan Huisgenoot vertel haar kleinseun het Saterdag saam met sy ouers aan ’n uithouperdrit van 80 km op ’n plaas in die distrik deelgeneem. Ná ’n skof van 30 km is halt geroep om die perde te versorg en te rus.

Mondré het bo-op die perdekraal gesit terwyl sy ma, Selma, een van die gesin se perde gevoer het. Die volgende oomblik het hy blykbaar gegly en op die grond by die perd geval.

Die perd het in die lug op geskop en toe met albei sy agterpote op Mondré getrap. Die hoewe het die linkerkant van sy borskas en linkerboarm beseer.

Adrie vertel die seun was in groot pyn, maar het self na sy ouers se motor gestap sodat hulle hom na die hospitaal op Kathu kon neem. Daar gekom, het hy self die hospitaal binnegestap, waar medici hom ondersoek en toe na die beter toegeruste hospitaal in Kimberley verwys het.

Maar in die ambulans het sy toestand begin verswak en met sy aankoms by die hospitaal in Kimberley is hy dood verklaar. Volgens Adrie is hy dood weens inwendige bloeding in sy borskas. Hy is sowat vier uur ná die ongeluk oorlede.

Die familie is verpletter, vertel Adrie. “My mooiste kind; hy was ’n engel op aarde,” het sy hom beskryf.

Mondré word eerskomende Saterdag begrawe.