Die provinsie beleef een van die ergste droogtes – en verskeie hittegolwe – in dekades. Die sluise het verlede Maandag in party gebiede oopgetrek en meer reënval is hierdie week aangeteken as vir die hele 2015.

“Dank God! Saterdag 25mm, Sondag was dit 6mm, Maandag 4mm, Dinsdag 6mm en Woensdag en Donderdag 26mm. Dis net vir hierdie week. Dis net Januarie en dis reeds meer as die hele winterreënvalsyfer van 62mm,” het Michael Jonas, ’n inwoner van Namakwaland op Facebook geskryf.

Lees ook: Suid-Afrika smag na water

Die reënval het ook die vlakke van die Oranjerivier – wat deur die grootste deel van die provinsie vloei – laat styg.

Al die parke in die Noord-Kaap het goeie reënval gekry, het SanParks Sondag gesê. “Pontoon in die Richtersveld is tydelik gesluit oor die sterk riviervloei. Dit het ook tot laat Vrydagaand by Augrabies en die Kgalagadi-oorgrenspark gereën,” het Nadia Lemmetuis van SANParks gesê.

Nog reën kort om betekenisvolle verskil te maak

Hoewel die stroom sterk is by Augbrabies is dit nog nie vol nie. Die park hou die situasie dop.

Daar was verskeie berigte van gelokaliseerde oorstromings. Inwoners by Kamieskroon in Namakwaland asook Upington in die Noord-Kaap het gesê verskeie paaie is oorstroom die naweek.

Geen hiervan het egter optrede vereis nie, het woordvoerders van verskeie munisipaliteite in die gebied bevestig.

Die Suid-Afrikaanse Weerburo het vroeë gewaarsku teen gelokaliseerde oorstromings weens die toestand van die grond as gevolg van die droogte.

Verteenwoordigers van georganiseerde landbou in die provinsie het gesê hulle is bly oor die reën, maar bereken nog hoeveel, en belangriker, waar die reën geval het. Lees ook:  Verskeie brande woed in die Wes-Kaap Hoewel die reënval baie welkom is, moet daar tot in Februarie en daarna nog goeie reënval wees om ’n beduidende verskil in die aanhoudende droogtetoestande regoor die provinsie te maak. Sonnige toestande word vandeesweek regoor die provinsie voorspel met temperature in die lae 30’s.

Bron: News24