Hy is ’n akteur, regisseur, model, pa van vier en was ’n rapper. Nou het hy ook met skool klaargemaak.

Mark Wahlberg (42) vertel sy kinders was sy aansporing om met skool klaar te maak. “Ek wou nie hê hulle moes sê ek het dit nie gedoen nie; waarom moet hulle? Ons moet ’n voorbeeld stel. Ek is trots om myself voor te stel as iemand wat in 2013 met hoërskool klaargemaak het.”

Hoewel Mark sukses in Hollywood behaal het, was sy kinderjare ongelukkig. Hy is van poging tot moord aangekla terwyl hy nog op hoërskool was.

Hy is geweldig trots daarop dat hy klaar studeer het. “My omstandighede was nie anders as dié van miljoene ander tieners vandag nie. Ek het ook gewoon in ’n rowwe werkersklasbuurt, omring deur dwelms, geweld en misdaad. Ek het ook gesukkel om sonder goeie invloed op die regte pad te bly.”

Mark, wat op 41 weer begin studeer het, sê sy grootste uitdaging was wiskunde. Tog is hy goed daarmee om sy geld te tel en op hoogte van sy geldsake te bly, sê hy.

Mark het ’n onderwyser aangestel en tydens die verfilming van Two Guns aanlyn studeer. Hy het dit weggesteek vir sy medester, Denzel Washington.

“Denzel het my die hele tyd gevra wat ek doen, maar ek wou hom nie sê nie,” vertel hy. “Niemand het geweet nie omdat ek nie die kuikens wou tel voor hulle gepik het nie. Ek wou nie sê wat ek doen voor ek dit klaargemaak het nie.”

Mark wil nou verder leer. “Ek sal daarvan hou om rolprentwese aan die Universiteit van Suid-Kalifornië te studeer. Ek wil nie iets soos ’n veearts word nie; ek wil iets studeer wat hy met my loopbaan sal help en my horisonne verbreed.”

Deur Faiza Mallick

Bronne: people.com, huffingtonpost.com, onpost.com