Wanneer jy ’n ouer word, oorval mense jou met raad. Van jou apteker en jou skoonma tot jou beste vriendin het die beste raad vir jou baba. En dan is daar nog die media . . .

Die media, advertensies en advertensieberigte beweer almal jy kan nie jou baba grootmaak sonder die produk wat hulle adverteer nie. Dis wanneer jou groot besteding as nuwe ouer begin, en voor jy jou kom kry, het jy R10 000 op goeters geblaas. Jou babakamer loop oor van doodgewone goed van doeke tot ’n verspotte snotsuigertjie.

Ek is ’n ma van drie en ’n kenner van babasorg, en hier is my lysies vir dit wat noodsaaklik is, goeie besittings is en wat jou geld mors:

Noodsaaklikhede

  • Motorstoeltjie. Dis noodsaaklik vir jou baba se veiligheid. Niks maak my woedender as ’n baba of kleuter op ’n ouer se skoot in die motor nie of erger nog, wat heeltemal los sit in die motor nie.
  • Toedraaikombersie. So ’n kombersie maak dit baie makliker vir jou en jou baba tot hy sowat 12 weke oud is. Dit troos hom en laat hom lekker slaap.
  • Drasak vir baba. Dit maak nie saak of dit ’n buidelsak of swaaisak is nie, iets wat jou hande vrylaat en jou baba troos is noodsaaklik. Daar is baie ontwerpe en elke ma sal haar gunsteling hê. ’n Goeie drasak moet gemaklik wees vir jou en jou baba, asook veilig en maklik om te gebruik.
  • Doeke van goeie gehalte. Doeke wat urien vinnig absorbeer maak jou nagte rustiger omdat dit die sensitiewe vel van bababoudjies droog hou en veluitslag en ongemak voorkom.
  • Fopspeen. Ek glo ’n fopspeen bied onontbeerlike troos vir klein, huilerige babas.

Goeie besittings 

  • Elektriese borspomp. Dit sou op my lysie noodsaaklike items gewees het, as dit nie so duur was nie. Borsvoeding kan moeilik wees en dit kan help met beter vloei van borsmelk. ’n Elektriese borspomp is ook nuttig wanneer jy teruggaan werk toe en borsmelk moet uitpomp.
  • Stootwaentjie. Dit help met die vervoer van jou baba, veral as jy in die stad woon.
  • Neteldoeke. Hierdie wonderlike groot, liggewig kombersies is ideaal vir ons warm Suid-Afrikaanse somers.
  • Steriliseerder. Sterilisering is net vir ’n rukkie noodsaaklik en is onnodig wanneer jou baba begin rondbeweeg. Ek sou ’n goedkoop een kies of selfs die skottelgoedwasser gebruik; dit word warm genoeg in die stoomfase van die siklus.
  • Slaapsakke. Hou jou baba saans lekker warm, maar kry dit net as jy ekstra geld of ’n vrygewige vriendin het.

Geldmors

  • Loopring. Dis erger as geldmors, want dis gevaarlik en belemmer jou kind se ontwikkeling. Vermy dit.
  • Donkerbrille vir babas. Het jy al ’n donkerbril op ’n baba se gesig probeer hou? Ek het nog nooit gesien dat dié brille met welslae gebruik word nie.
  • Snotsuigertjie. Ek het al gesê dis die vreemdste produk denkbaar. Miskien kon ek dit nog net nie reg gebruik nie of dalk is die idee hiervan vir my te erg. Gebruik liewer ’n neusspuit met ’n soutoplossing.
  • Verwarmer vir afveedoekies. Die idee klink goed: pleks dat jy jou baba se boudjies met koue lappies afvee, maak jy hulle eers warm. Ek dink dis dalk net die eerste paar weke nodig en jy kan jou geld beter bestee.
  • Ontwerpersklere vir jou baba. Moenie eers daaraan dink nie; jou baba sal daardie Guess-truitjie net drie keer dra voor hy dit ontgroei.

As jy nog inligting wil hê oor basiese produkte vir babas, kan jy gerus Meg Faure se blitskursus bywoon in ouerskap vir die eerste paar weke. Daarin gee sy ook raad oor produkte vir babas. Hierdie klein privaat werksessie, Baby Essentials, word in Oktober gehou in die Wellness Warehouse in Kloofstraat, Kaapstad. Bespreek by 021-462-1508.

- Meg Faure

Meg is ’n arbeidsterapeut met ’n spesiale belangstelling in die hantering van moeilike babas en babas met slaapprobleme. Sy het die Baby Sense-handelsnaam in 2005 begin en is die eienaar van die maatskappy Baby Sense, waarvoor sy innoverende babaprodukte ontwikkel.

Meg is saam met sr. Ann Richardson die medeskrywer van die blitsverkopers Baby Sense (uitgereik in 2002, met ’n nuwe uitgawe in 2010) en Sleep Sense (uitgereik in 2007). Sy het Feeding Sense (uitgereik in 2010) saam met die dieetkundige Kath Megaw en dr. Simon Strachan geskryf. Haar vierde boek, Your Sensory Baby, het in Mei 2011 die lig gesien.

Meg het ook ’n reeks vernuwende Baby Sense-produkte ontwikkel wat gegrond is op die Sensible Sensory Parenting-beginsels wat in haar boeke beskryf word.