nokia3310

Die 3310 is in 2000 die eerste keer bekendgestel en het een van die gewildste selfone in Suid-Afrika en een van die suksesvolstes ter wêreld geword.

Dit is bekendgestel as ’n plaasvervanger vir die 3210-model, wat ook gewild was.

Die foon was ook bekend vir sy lang batterylewe, amper onvernietigbare bou en die gewilde selfoonspeletjies Snake en Space Impact.

Die 3310 was ’n basiese selfoonmodel wat SMS’e kon stuur en ontvang en oproepe maak en ontvang. Maar dit was die toonbeeld van die selfoon in die vroeë 2000’s en het die tydperk van kleurskermslimfone met koordlose-toepassingsprotokol ingelui.

Die maatskappy sal die 3310 op 26 Februarie by die selfoonwêreldkongres in Barcelona saam met twee nuwe Android-aangedrewe slimfone, die Nokia 5 en Nokia 3, bekendstel. Die Nokia 6 is onlangs in China teen ’n prys van net R3 377 uitgereik. Dit het ’n vertoonskerm van 13,97 cm met volle HD-beeldgehalte en 2,5D Gorilla Glass vir beskerming. Teen R826 kan die nuwe inkarnasie van die klassieke foon joune wees. Die herbekendstelling is uitdruklik op die Europese mark gemik; verspreidingsplanne vir ander streke is nog onbekend.

- Nombulelo Manyana

Bronne: Fin24. Venturebeat. TheGuardian