Dit was toe nie R360 000 nie, maar wel R560 000 wat deur selfoon- en internetbedrog uit Esmaré Weideman se bankrekening gesteel is. Dié voormalige hoofredakteur van Huisgenoot en deesdae uitvoerende hoof van Media24 moes dié skoknuus gister hoor by Adrian Vermooten, die hoof van Absa se digitale kanale.

Esmaré het vanoggend getwiet: “Absa het pas bevestig dat ‘net’ R77 000 van die R560 000 wat uit my rekeninge gesteel is, nog vermis word. Die ondersoek duur voort.”

Sy het geen verdere besonderhede nie, het Esmaré vanmiddag gesê. “Die eerste R200 000 is blykbaar reeds in my huislening terugbetaal. Adrian het bloot vandag laat weet die meeste geld is gekry, maar nog R77 000 is soek.” ’n Ondersoekbeampte sal môre haar hardeskryf kopieer om te help met die ondersoek, wat voortduur.

Lees in die nuwe Huisgenoot: Die stories van nog mense wat so besteel is, hoe dié bedrog werk en hoe jy jou daarteen kan beskerm.