Enkele gevalle van malaria word elke jaar aangemeld en dié wat die afgelope tyd voorgekom het, dui geensins op ’n skielike toename in dié koorssiekte nie.

So sê prof. Lucille Blumberg van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) nadat ’n vyfde malariageval binne ’n maand aangemeld is.

Luidens ’n nuusverklaring van Nios hou die dood van ’n vrou van Swartruggens in Noordwes weens malaria hoegenaamd nie verband met die twee malariasterftes in Pretoria nie. ’n Tweede pasiënt van Swartruggens kry malariabehandeling. Nie een van die Swartruggens-slagoffers het onlangs ’n malariagebied besoek nie.

Talle gevalle van die koorsiekte is ook op Thabazimbi en Lephalale in Limpopo aangemeld, meestal van mense wat in omliggende plattelandse gebiede woon. “Die gebiede was in gunstige jare (vir die verspreiding van die siekte) histories geneig tot malaria en dis dus nie heeltemal ongewoon (dat daar nou gevalle voorkom) nie,” lui die verklaring.

“Die gevalle is skaars, maar ’n paar gevalle van ‘ingevoerde’ malaria word jaarliks aangemeld en val saam met seisoenale toenames in die voorkoms van malaria tussen Januarie en April. Dit beteken ook nie die malariagebiede is besig om groter te word nie.”

Malaria kan in die vroeë stadiums van die siekte baie doeltreffend behandel word, maar dikwels word dit te laat gediagnoseer omdat die simptome niespesifiek is of veral omdat die pasiënt nie onlangs ’n malariagebied besoek het nie.

Nios moedig gesondheidsorgpraktisyns aan om waaksaam te wees betreffende malaria by alle mense wat ’n onverklaarbare hoë koors (38 °C en hoër) en verkouesimptome toon, selfs al het hulle nie gereis nie.

Inwoners van en besoekers aan malariagebiede met verkoueagtige simptome en koors moet dringend mediese behandeling kry en hulle laat toets vir malaria.

Ná swaar neerslae op die hoëveld neem die culicine-muskietbevolking toe. Culicine sluit ’n verskeidenheid muskiete, onder meer die gewone huismuskiet in, maar hulle dra nooit malaria oor nie.

Weens die onlangse swaar reëns het die temperature en humiditeit toegeneem en het malariagevalle binne en buite die gewone malariagebiede in Suid-Afrika beduidend toegeneem. Die gebiede sluit in die noordooste van Limpopo, die Laeveld-gebiede van Mpumalanga (Mbombela uitgesluit) en die verre noorde van KwaZulu-Natal, en buurlande soos veral Mosambiek in die 2016-’17-seisoen.

Simptome van malaria sluit in koors, hoofpyn, spierpyne, kouekoors en ’n gesweet.

Lucille sê wanneer malaria binne die eerste of tweede dag gediagnoseer word, is dit maklik behandelbaar. Sy het die huidige gevalle as ongelukkig maar uitsonderlik bestempel. Nios ondersoek elke geval.