[caption id="attachment_127261" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

Brandstofverbruikers moet onthou om voor Dinsdag om middernag hul brandstoftenke te vul om seker te maak hulle kry nog vir oulaas petrol teen ’n laer tarief.

Albei grade petrol verhoog van Woensdag af met tot 11 sent per liter; die dieselprys gaan met tot 42 sent per liter styg, het die departement van energie Sondag 3 Julie aangekondig.

Net verlede maand het die prys van petrol motoriste na hul asem laat snak. Die prys van petrol is in Junie met tot 52 sent verhoog en die dieselprys het met ’n allemintige 76 sent per liter gestyg.

Hier is nog 12 maniere waarop jy brandstof kan bespaar:

  1. Beplan jou uitstappies en take so dat jy alles wat in dieselfde omgewing gebeur, op een slag kan uitvoer, pleks dat jy dieselfde roete meer as een dag per week moet aflê.
  2. Moenie jaag nie. Hoe vinniger jy ry, hoe meer brandstof gebruik jy.
  3. Moenie op voertuie voor jou afjaag nie. Dit mors brandstof. Ry liewer stadig maar egalig.
  4. Versnel egalig. Dit vreet brandstof wanneer jy die versneller plattrap.
  5. Moenie te veel met jou voet op die koppelaar en remme ry nie. Dit verhoog brandstofverbruik én slytasie.
  6. Hou ’n handratmotor in die hoogste moontlike rat sonder dat jy stremming op die enjin plaas.
  7. Hou vensters toe op die oop pad. Oop vensters skep weerstand wat brandstofverbruik met tot ’n vyfde kan verhoog.
  8. Moenie onnodige bagasie rondry nie. Hoe swaarder die vrag, hoe meer brandstof gebruik jy.
  9. Laat jou motor gereeld versien. So verhoog jy jou voertuig se doeltreffendheid.
  10. Toets die druk in jou bande. Bande wat nie styf genoeg is nie, verhoog jou brandstofverbruik en kan boonop gevaarlik wees.
  11. Verminder die lugweerstand. As jy nie die bagasierak op jou motor daagliks gebruik nie, haal dit liewer af om brandstofverbruik in te kort.
  12. Hou in ’n lae rat teen opdraandes. Moenie jou motorenjin ooreis deur in ’n hoë rat te bly nie. ’n Laer rat hou die enjinspoed hoër en verbruik minder brandstof.

Bronne: Departement van energie; AA.co.za