“Dit is weens warm, vogtige, tropiese lug wat van die noorde af inkom,” het die voorspeller Dransby Dulo gesê.

Die dele wat die meeste geraak sal word, is onder meer Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noord-Wes, KwaZulu-Natal en die noordelike helfte van die Vrystaat.

Dransby sê daar is ’n 80-persent-kans dat Gauteng, Limpopo en Mpumalanga Donderdag en Vrydag buie en donderstorms kan kry.

“Dit kan vloede in die gebied veroorsaak,” het hy gesê.

’n Sestig-persent-kans van buie en donderstorms word ook oor die naweek in hierdie gebiede verwag.

“Die reënweer behoort in die volgende sewe dae op te klaar,” sê Dransby.

Geen nuwe vloedverwante voorvalle is oornag in Johannesburg aangemeld nie, het Nana Radebe, ’n woordvoerder van die nooddienste van Gauteng, Donderdagoggend gesê.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, die woordvoerder van die metropolisie van Johannesburg, sê die watervlakke op die paaie in Johannesburg het teen Donderdagoggend beduidend gedaal en geen nuwe padoorstromings is aangemeld nie. Johan Pieterse, die woordvoerder van die Tshwane Nooddienste, het gesê die nooddienste in Tshwane sal in die reënweer op ’n gereedheidsgrondslag wees. “Dit reën nie nou in Tshwane nie, maar wanneer dit reën, sal ons gereed wees,” het Johan Donderdagoggend gesê.

Wenke om op nat paaie te bestuur.