Dit is tans nog baie gering, maar nietemin. Intussen word nog reën in die droogtegeteisterde metropool en provinsie verwag. 

Maar stads- en provinsiale owerhede waarsku die waterkrisissituasie het in wese nog nie verander nie. Al lyk dit dalk vir Kapenaars, en veral inwoners van die Moederstad, asof dit goed reën, sal die huidige waterbeperkings nog lank geld. Daarby doen hulle ’n beroep op inwoners om aan te hou om water te bespaar.

Meer as 100 mm reën is tot dusver vandeesmaand by die Wemmershoek- en Bergrivierdam gemeet. Dit is twee van die ses vernaamste damme wat Kaapstad en omstreke bedien.

Tog het hul vlakke teen 12 Junie net tot onderskeidelik 36,6 en 32,2 persent gestyg, vergeleke met 34,8 en 30,4 persent ’n week tevore. En die Theewaterskloofdam, verreweg die grootste dam, was steeds op slegs 15,3 persent, vergeleke met 13,5 persent ’n week tevore.

Teen 12 Junie was die ses vernaamste damme (Voëlvlei en Steenbras Laer en Hoër is die ander drie) op 21,2 persent, vergeleke met 19,6 persent ’n week tevore, en 29,7 persent dié tyd verlede jaar.

Intussen was Wes-Kaapse damme in die geheel volgens die nasionale departement van water en sanitasie gemiddeld 19,5 persent vol, vergeleke met 17,7 persent ’n week tevore (en 30 persent ’n jaar gelede).

Nog reën op pad

Nog reën word in die volgende paar dae in dele van die Suidwes-Kaap en Suid-Kaap verwag. Teen begin vandeesweek het die SA Weerdiens ’n 60 persent-kans vir 10 mm in die Kaapstadse metro vir Donderdag voorspel, met ook ’n paar millimeter Woensdag, Saterdag en dan weer Maandag.

Volgens James-Brent Styan, woordvoerder van Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, is die streek egter ondanks die reën steeds midde-in die greep van ’n knellende droogte en is die provinsie steeds ’n rampgebied. Damvlakke sal byvoorbeeld teen Oktober tot minstens 70 persent moet styg as die provinsie in ’n aanvaarbare situasie met die oog op die somer wil wees.

Verskeie kenners benadruk dit kan tot drie seisoene van bogemiddelde reën verg vir damvlakke om te herstel.

Damvlakke steeds skaars 11 persent

In ag genome dat die laaste 10 persent van damwater meestal nie bruikbaar is nie, was die metro se damme teen 12 Junie in wese steeds net 11,2 persent vol, waarsku die Stad Kaapstad.


Boonop bly watergebruik hardnekkig sowat 15 miljoen L bo die daaglikse teiken van 600 miljoen L. Daarom benadruk die Stad ook weer dat vlak 4-beperkings onbepaald oor die langer termyn sal bly geld, en ook strawwer gemaak kan word indien nodig. Hulle vra mense moet onthou weens die erns en duur van die droogte was damvlakke baie dekades laas so laag aan die begin van ’n winter.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid belas met watersake, sê: “Inwoners moet steeds alles binne hul vermoë doen om hul daaglikse gebruik onder 100 L per persoon te hou.

“Dit kan ’n paar seisoene van normale reënval neem vir die damme om te herstel en daarom is dit noodsaaklik dat verbruik drasties gesny word. Dit sal ons reserwes help bou vir nog ’n verwagte taai somer.

“Ons is baie dankbaar vir die reën. Sedert Dinsdag verlede week se groot storm, het ons byvoorbeeld goeie reën gehad in opvanggebiede wat die stad bedien, hoewel dit oneweredig oor die verskillende opvanggebiede was. Wemmershoek het 111 mm teenoor Steenbras se 37 mm gehad, maar die reënval vorentoe bly moeilik voorspelbaar.”