Dat Suid-Afrika nou meer rande vir invoere moet opdok, beteken dat ons as verbruikers aanstaande maand 55 c meer vir petrol kan betaal en 39 c meer vir diesel, beraam die AA.

“Die verlies aan beleggersvertroue en die graderingsagentskappe S&P en Fitch se kredietafgradering van Suid-Afrika het die rand erg teenoor die dollar laat gly - van omtrent R12,35 tot sowat R13,40 tans,” sê die AA.

Hulle reken die randverswakking is vir sowat ’n driekwart van die verwagte brandstofprysstyging aanspreeklik en hoër internasionale petroleumpryse vir die res daarvan.

“Ook bestaan geen sekerheid dat die uitwerking van die afgraderings al ten volle na die ekonomie deurgesyfer het nie. Die prentjie in Mei kan dus nog heelwat verander.

“As die rand by sy opwaartse trajek (voor die kabinetskommeling-skok) teenoor die dollar gebly het, sou ons geldeenheid sterk genoeg gewees het om die stygings in internasionale petroleumpryse te oorkom.”