Die Oscar-benoemde flieks hou net aan kom.

Hierdie week begin Spotlight (10-12OT), ’n feit-gebaseerde drama oor ’n groep joernaliste van The Boston Globe wat in 2001 die Rooms-Katolieke Kerk se geheimhouding oor kindermolestering oopgevlek het. Die rolverdeling sluit in Mark Ruffalo (die Hulk in die Avengers-flieks), Rachel McAdams (About Time), Michael Keaton (Birdman) en Liev Schreiber (Ray Donovan) en die fliek is vir ses Oscars benoem, onder meer vir beste akteur (Ruffalo), beste vroulike byspeler (McAdams) en beste film.

Die meeste resensente dink die rolprent is uitstekend. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 96 persent. Hulle bevind: “Spotlight hanteer die sensasionele details van hierdie feitelike verhaal met grasie terwyl dit die versoeking weerstaan om die storie se helde op te hemel. Die resultaat is ’n drama wat die gehoor vereer sowel as die regte mense wat as onderwerp dien.”

Die Britse filmtydskrif Empire se Helen O’Hara gee dit vier sterre en beskryf dit as “ ’n volwasse drama oor ernstige mense. Genadiglik vermy (die regisseur Tom McCarthy) enige van die clichés wat gewoonlik ingesluit word met die oog op moontlike pryse. Hierdie fliek is opwindender as menige aksieflieks.”

In die komediedrama The Dressmaker (13GT) vertolk Kate Winslet (Titanic) die titelrol. Haar karakter, Tilly , is ’n glansryke kleremaakster wat in die 1950’s na die dorpie in Australië waar sy grootgeword het, terugkeer om na haar siek ma (Judy Davis van To Rome with Love) om te sien. Sy is egter ook uit op wraak omdat die eng dorpsmense haar 25 jaar tevore die skuld vir ’n seun se dood gegee en gedwing het om die dorp te verlaat. Liam Hemsworth (The Hunger Games) is ook te sien as ’n boer wat op Tilly verlief raak en Hugo Weaving (The Matrix) as die dorp se polisieman.

Die meeste resensente dink die fliek is gemiddeld tot goed. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 65 persent gegrond op 46 resensies. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as eersgenoemde werk, gee dit 47 uit 100.

Mark Kermode van die Observer gee dit drie sterre en beskryf dit as ’n oneweredige swart komedie. “Goeie toneelspel kikker ’n andersins wisselvallige kleindorpiesatire gekruis met ’n weerwraakklug op.”

Soos Spotlight is die oorlewingsdrama The Finest Hours (10-12OG) ook op ware gebeure gegrond en soos The Dressmaker speel dit in die 1950’s af. In Februarie 1952 tref een van die ergste storms ooit die ooskus van Amerika en skeur ’n olietenker middeldeur. Terwyl die bemanning onder leiding van assistent-ingenieur Ray Sybert (Casey Affleck van Interstellar) spook om aan die lewe te bly, probeer die kuswagkaptein Bernie Webber (Chris Pine van Star Trek) en drie ander reddingspersoneellede hulle aan boort van ’n klein lewensreddingsbootjie bereik.

Die meeste kritici dink dis ’n skaflike fliek. Rotten Tomatoes gee dit 58 persent en die konsensus is: “The Finest Hours is uiters oudmodies en sal kykers tevrede stel wat ’n tradisionele reddingsdrama soek, terwyl dit avontuurlustiger gehore onbevredig sal laat.”

Rafer Guzmán van newsday.com gee dit twee uit vier sterre en beskryf dit as “’n uitsonderlike verhaal wat op ’n verwarrende wyse vertel word omdat dit te veel maritieme dialoog insluit en te min doen om duidelikheid te skep oor wie waar is. Indrukwekkende stormtonele en ’n uitstekende Pine maak amper op daarvoor. Die film het ’n nostalgiese gevoel en drup van stroperigheid, wat die heldedaad waaroor dit handel, verflou deur dit heeltemal te oordryf.”

Betyds vir Valentynsdag is The Choice (10-12O) ons jaarlikse dosis Nicholas Sparks. Dié romantiese drama is gegrond op ’n roman uit die pen van dié gewilde liefdesverhaalskrywer wat ook verantwoordelik is vir The Notebook (2004) en Safe Haven (2013). Dit handel oor Travis (Benjamin Walker van Abraham Lincoln: Vampire Hunter) en Gabby (Teresa Palmer van Warm Bodies) wat met die eerste oogopslag verlief raak nadat Gabby langs Travis intrek. Hulle trou en is dolgelukkig, maar dan beland Gabby ná ’n motorongeluk in ’n koma en moet Travis besluit of hy haar van die lewensondersteuningstelsel moet afhaal of haar in langtermynsorg moet plaas waar sy dalk nooit wakker gaan word nie.

Sparks se aanhangers sal waarskynlik mal wees oor die rolprent, maar die resensente was nie beïndruk nie. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar in hierdie stadium gee hulle dit ’n skamele 10 persent gegrond op 29 resensies. Metacritic gee dit 24 uit 100.

A.A. Dowd van avclub.com gee dit ’n C- en beskryf dit as “dieselfde verdomde Nicholas Sparks-fliek wat ons elke jaar kry. Wanneer dit kom by ’n herkenbare styl, kan die Marvel- en Pixar-films nie met Sparks meeding nie. Daar’s 10 van hierdie rolprente en hulle is almal min of meer dieselfde, maak nie saak wie die regisseur is nie. Hulle bevat dieselfde beelde, milieu en intrige oor mooi mense wat op ’n idilliese plek verlief raak en teen die derde bedryf ’n ernstige mediese probleem moet oorkom. Daar is ’n rede hoekom hierdie films so gewild is en daar is niks verkeerd daarmee om elke Valentynsdag na ’n mooi storie oor die liefde, die dood en oulike hondjies te wil kyk nie, maar moet dit elke keer so sieldodend eenders wees?”

  • Sandra Visser