Daar was ’n groep groen en geel ballonne vasgemaak op ’n bank by ’n bushalte buite die hooggeregshof in Pretoria. “Oscar Pistorius, jy bly ons held,” is op ’n plakkaat langs die ballonne geskryf.

Dit is onduidelik wie die ballonne en plakkaat daar geplaas het.

Intussen was daar weer ’n sterk mediateenwoordigheid, insluitend kameras, wat op Oscar se aankoms by die hof gewag het.

Oscar staan tereg weens moord; hy word daarvan aangekla nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar geskiet het.

Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet.

Oscar pleit onskuldig en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom sou aanval. Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet en dit was vooraf beplan.

In die hof het Reeva se ouers die aanvang van verrigtinge in die voorste bank afgewag.

Haar ma, June, het gepaat met Jacqui Mofokeng, die woordvoerder van die ANC-vroueliga, wat die hofsaak ter ondersteuning van die Steenkamp-familie bywoon.

Haar pa, Barry, het langs ’n ander man gesit en koerant lees.

Oscar se suster, Aimee, het kort voor negeuur met ’n ander vrou by die hof ingestap.

Die twee het na die Steenkamps gekyk en gegroet voor hulle aan die ander kant van die bank gaan sit het.

Oscar se prokureur Barry Roux gaan na verwagting sy slotbetoë voortsit wanneer verrigtinge halftien begin.

Hy gaan aan die hof verduidelik hoekom sy kliënt nie tronkstraf moet kry nie.

Die aanklaer Gerrie Nel het Donderdag sy slotbetoë afgesluit.

Hy het Oscar ’n verskriklike getuie genoem wat sy getuienis aangepas het en die hof ’n reeks onwaar weergawes gegee het.

Die saak duur voort.