Prins William probeer soveel moontlik ure as ’n soek-en-reddingsvlieënier insit voor hy met vaderskapsverlof gaan.

Die hertog van Cambridge, wie se eersteling na verwagting op 13 Julie gebore word, probeer soveel moontlik skofte inkry waar hy in Anglesey, Noord-Wallis, as ’n vlieënier werk sodat hy ná die baba se geboorte meer tyd kan afkry.

’n Bron het aan E! News gesê: “William het Saterdag en Sondag gewerk sodat hy soveel moontlik skofte doen voor hy met verlof gaan. Hy wil so hard hy kan werk om almal te help. Hy het nog nie briek aangedraai nie; hy werk regtig hard.”

Sy vrou, Catherine, is glo bekommerd dat William die geboorte van hul baba gaan misloop. Al het hulle beplan om die meeste van hul tyd by hul huis by Kensington-paleis deur te bring, is William se werk onvoorspelbaar. Hy het ook al voorheen gesê hy sal nooit enige spesiale behandeling van sy werkgewer, die koninklike lugmag, verwag nie.

’n Bron het destyds vertel: “Kate is bang hy is nie daar nie. Sy voel selfbewus, want dis vir albei van hulle ’n nuwe ervaring. Sy weet egter hy sal alles in sy vermoë doen om haar nie teleur te stel nie.”

William het darem gevra of ’n helikopter gereed gehou kan word sodat hy Londen toe kan gaan as Catherine begin kraam terwyl hy in Noord-Wallis is.