Gebruikers van die gewilde klets-app WhatsApp moet lig loop vir die jongste slenter waarin beweer word die geselsdiens gaan binnekort betaling begin vra.

[caption id="attachment_122146" align="aligncenter" width="600"] Foto: flickr.com (Sam Azgor)[/caption]

"Môre om sesuur gaan jy regtens moet begin betaal om WhatsApp te gebruik," lui die kettingboodskap wat versprei word. Dit is kwansuis ’n boodskap van WhatsApp se uitvoerende hoof, ene Jim Balsamic.

Tog is die eintlike uitvoerende hoof Jan Koum, wat WhatsApp in 2009 help stig het.

"Die boodskap lig al ons gebruikers in dat ons netwerke die laaste ruk oorlaai is en ons jul hulp nodig het om die probleem op te los. Ons aktiewe gebruikers moet asseblief dié boodskap aan hul kontaktelys stuur om te bevestig dat jy 'n aktiewe gebruiker van WhatsApp is.

"As jy nie die boodskap aan almal op jou kontaktelys stuur nie, gaan WhatsApp ’n fooi begin hef," lui die slenter se bewoording.

Dit is nie die eerste keer dat so ’n bedrogspul die netwerk teiken nie. 'n Soortgelyke boodskap is in 2013 versprei en WhatsApp het op hul webtuiste bevestig daar steek geen waarheid daarin nie.

"Neem asseblief kennis dat dit 'n foefie is en nie waar is nie. Terwyl ons gevlei is deur die aandag, sal ons liewer ons tyd gebruik om koel nuwe produkte vir julle te ontwikkel as om simpel stories soos dié te moet teenwerk."

Die geselsdiens noem dat enige verdagte boodskap met ’n knippie sout geneem moet word omdat hierdie soort slenter algemeen voorkom. Volgens WhatsApp moet jy lig loop vir boodskappe met die volgende kenmerke:

  • Die persoon wat dit stuur, beweer hulle is verbonde aan WhatsApp.
  • Die boodskap bevat versoeke, soos om die boodskap aan te stuur of te versprei.
  • Die boodskap beweer jy gaan die een of ander straf opgelê word as jy nie die opdrag uitvoer nie, soos dat jou rekening stopgesit gaan word.
  • Die boodskap beloof ’n beloning of geskenk van WhatsApp of ’n ander party.